Oorsig

Die skool se medium van onderrig is Afrikaans Huistaal. Alle klasse word in Afrikaans aangebied. Van die personeel word verwag om Afrikaans keurig en suiwer aan die leerlinge oor te dra. Alle personeel- en ouervergaderings sal hoofsaaklik in Afrikaans aangebied word.

Hoërskool P.J. Olivier is die enigste Afrikaans medium skool in Grahamstad wat daarop ingestel is om al ons leerders te bemagtig om ook vlot tweetalig te wees. Ons is ‘n sterk akademiese gerigte skool wat leerders in Afrikaans bedien vanaf Graad R tot 12. Ons beskou onsself as ‘n goed gebalanseerde skool waar akademie, sport en kultuur ewewigtig met mekaar skakel om aan al die leerders die geleentheid te bied om hulle volle potensiaal te verwesenlik.

Hoërskool P.J. Olivier spog met sy eie goed ingerigte Graad R-klas waar die P.J.-Pikkies selfs ook baat vind by hul eie geïntegreerde rekenaaronderrig en waar hulle voorberei word vir ‘n skoolloopbaan vanaf Graad 1 tot 12 in dieselfde skool. Dit is vir ons belangrik dat ons jong kinders reeds voor skool hulle verbintenis vestig met moedertaalonderrig en ‘n trots kweek vir dit waarin ons glo.

Uitkomsgebaseerde Onderwys tot in Graad 9 is in 2006 uitgebrei met die FET-stelsel in Graad 10. In 2007 het Graad 11 gevolg en in 2008 is die eerste nuwe matriekeksamen geskryf. Nuwe vakke wat ter sprake gekom het, is Lewensoriëntering en Wiskundige Geletterdheid saam met die reeds gevestigde vakke wat binne ‘n groot vakkeuse in die kurrikulum aangebied word. In Grade 10 tot 12 bied Hoërskool P.J. Olivier tans ‘n wye verskeidenheid vakke aan. Vakke soos Afrikaans Huistaal, Engels Huis- en Eerste Addisionele Taal, Wiskunde, Wiskundige Geletterdheid, Rekeningkunde, Fisiese Wetenskap, Lewenswetenskap, Geografie, Geskiedenis, Besigheidstudies, Kuns en Rekenaartoepassingstegnologie vorm deel van die skool se wye vakkeuses.

Hoërskool P.J. Olivier skakel met die Johan Carinus Kunssentrum en ons leerders kry vanaf Graad 10 die geleentheid om kuns as ‘n keusevak teenoor enige vak behalwe die verpligte vakke te kies. Kuns word in twee groepe verdeel naamlik Visuele Kuns en Ontwerpkuns. Visuele kuns bestaan uit drie vakke nl. Beeldhou, Skilder en Grafies. Ontwerp sluit weer in Tekstiel en Keramiek. Een van hierdie vakke kan as keusevak geneem word binne ons vakkeuse. Die vergunning bestaan egter dat begaafde kunsstudente twee kunsvakke mag kies. Al die klasse word deur spesialis onderwysers by Johan Carinus Kunssentrum aangebied. Grade 8 en 9 kry ook kunsonderrig van die personeel van die Kunssentrum. Kuns in hierdie grade vorm deel van die Kuns en Kultuur leerplan.

Binne akademiese verband skakel ons gereeld met Rhodes Universiteit en word ons kurrikulum geskakel op tersiêre vlak deur gereelde deelname aan expo’s en die jaarlikse wetenskapfees.

Die senior onderwysers van Hoërskool P.J. Olivier is nou betrokke by die eksterne Departementele eksamens deurdat almal reeds op ‘n senior vlak betrokke is of was by die nasien van die Departementele Graad 12-eksamen.

Op die sportveld is Hoërskool P.J. Olivier ‘n krag en vind sportsoorte soos Atletiek, Krieket, Tennis, Hokkie, Netbal en Rugby deur die jaar groot byval. Addisioneel tot die genoemde skoolsporte is daar leerders wat uitstekend presteer in Bergfietsry en Karate. Buitemuurse aktiwiteite sluit Debat, Drama en VCSV in.

Die skool beskik oor ‘n moderne koshuis, met dubbelkamers vir dogters en kamers van vier vir seuns. Vir ontspanning beskik die koshuis oor M-Net, tafeltennis en veerpyltjies vir inwoners. Omdat die koshuis en skool op dieselfde perseel is, het alle inwoners ook permanente toegang tot al die skool se sportfasiliteite.

Die feit dat Hoërskool P.J. Olivier jaarliks van krag tot krag groei, is ‘n bewys van die belangrike funksie wat die skool in Grahamstad en die nabye omgewing vervul.

Ons glo dat die unieke karakter van Hoërskool P.J. Olivier beslis ‘n positiewe verskil aan ons leerders se voorbereiding en toerusting tot volwassenheid teweeg kan bring.

Die Beheerliggaam van Hoërskool P.J. Olivier bied vol en gedeeltelike studie- en losiesbeurse aan vir belowende jong kandidate wat reeds bewys het dat hulle op akademiese, sport of kulturele terreine presteer. Om hierdie beurse te behou moet prestasies ook volgehou word.