Frans Erasmus

 

Baie welkom by die 19de Frans Erasmus Sportnaweek. Dit is ons voorreg om hierdie hoogtepunt op die Oos-Kaap sportkalender aan te bied. Ons verwelkom in besonder alle spelers, ouers, onderwysers en ander ondersteuners.

Tydens die twee dae sal 28 spanne met 600 deelnemers op die baan en veld draf. Ons verwelkom vanjaar ons eerste internasionale span van Dubai, die Dubai Exiles. Hulle deelname verryk ons byeenkoms en bring ‘n nuwe dimensie aan die Frans Erasmus. Ons hoop dis die eerste van nog baie.

Die besonderse geesdrif en positiewe sportervaring wat heers tydens die naweek, is nie net die onderbou van ’n susesvolle seisoen nie, maar dit vorm ‘n blywende herinnering en verskerp positiewe waardes. Hier leer ons dat alles nie net wen of verloor is nie, dat uithou, aanhou en veggees van jou ‘n wenner maak. Mag ons die waardes van PJ Olivier: Respek, Integriteit en Omgee uitleef op en van die veld. Dankie aan elke skool wat hierdie geleentheid aan sy kinders bied deur deel te neem aan hierdie besonderse toernooi.

Ons bedank graag al ons borge wat ons ruim ondersteun het sodat hierdie naweek die standaard kan stel waarvoor dit bekend is. Dit is julle verbintenis tot onderwys wat ʼn verskil maak in elke deelnemer se ervaring.

Hierdie naweek vind plaas onder die bekwame leiding van Mnr. Manie Cronjé wat met sy kenmerkende entoesiasme hierdie naweek weer na nuwe hoogtes sal neem. Ons dank aan hom en sy span vir die reëlings. Baie dankie ook aan Mev. Celeste van Vuuren wat die netbaltoernooi gereël het. My dank aan die res van die personeel en werkers wat ook elkeen die spreekwoordelike ekstra myl geloop het om hierdie naweek ‘n sukses te maak.

Ondersteun gerus ons Ouer- en Onderwyserskorps by die kiosk. Hulle gebak is sterk ten aan bevele. Dankie vir julle moeite.

Geniet die naweek saam met ons!